Iron Man 3 propvol emosie en aksie

Met Robert Downey Jr., Gwyneth Paltrow, Don Cheadle, Guy Pearce, Ben Kingsley en ander. Regie deur Shane Black.

Iron Man 3 begin met ’n terugflits na ’n vroeëre tyd in Tony Stark (Robert Downey Jr.) se lewe voor die skepping van sy Iron Man-pak wat hom later in ’n superheld omgeskep het. Ons lei gou af dat ’n moeilike tyd vir Stark voorlê en in die openingstonele sien ons hoe sy aanvanklike arrogansie en egoïsme eindelik tot die totstandkoming van sy gedugste vyand tot dusver lei.

Iron Man 3 verkies om die aksietonele spaarsamig te laat uitspeel en bestee genoeg tyd aan deeglike eksposisie en karakterontwikkeling. Dit dra daartoe by dat die pas van die fliek soms effens te stadig verloop. Tony moet vir ’n groot gedeelte van die fliek sy lyf speurder hou om agter te kom hoe presies die terroris bekend as The Mandarin (Ben Kingsley) dit reggekry het om ’n verwoestende bomaanval op Los Angeles te begin. Ongelukkig weet die gehoor in die stadium reeds meer oor wat Mandarin in die mou voer, wat maak dat die spanning vir lang dele uit die verhaal ontbreek. Die aksietonele het egter eindelik meer trefkrag danksy die stadiger verloop en dit is altyd die wag werd wanneer die Iron Man-pak weer in die kollig verskyn.

Rolprente wat bewese lokettreffers soos die Iron Man-reeks opvolg, maak dikwels die fout om ’n oormaat aksie, karakters en storielyne in te prop in ’n poging om te verseker dat die gehoor deeglik vermaak word en meen dat die prys van hul fliekkaartjie dit werd was. Iron Man 2 was veral hieraan skuldig en die resultaat was ’n rolprent wat die formule van sy voorganger se sukses uit die oog verloor het.

Aanhangers sal bly wees om te hoor dat Iron Man 3 die meeste van die foute van sy voorganger vermy en ’n vermaaklike avontuur propvol aksie, maar tog met heelwat emosie en karakter, skep.

Olympus voorspelbaar

OLYMPUS HAS FALLEN – Met Gerard Butler, Aaron Eckhart, Morgan Freeman, Angela Bassett, Robert Foster, Rick Yune en ander. Regie deur Antoine Fuqua.

Daar is min oorspronklikheid te vinde in Olympus Has Fallen. Die vergesogte storielyn is die mees interessante aspek, al loop dit uit op ’n voorspelbare aksie-fliek wat sterk herinner aan Bruce Willis se treffer van 1988, Die Hard. ’n Berugte terroris, ene Kang Yeonsak (Rick Yune), lei ’n gewaagde aanval op die kern van die Amerikaanse politieke mag in Washington, D.C. Ná ’n bloederige geveg in en om die Withuis is die terroris en sy trawante volkome in beheer, met die Amerikaanse president (Aaron Eckhart) en verskeie ander hoës as gyselaars. Spesiale agent Mike Banning (Gerard Butler), wat wonderbaarlik die aanval oorleef, is nou die owerhede se enigste hoop om met die terroriste af te reken en die president uit hul kloue te red.

 

Olympus Has Fallen volg ’n dekade-oue formule, maar Antoine Fuqua is ’n bekwame regisseur en sy skerp oog vir aksie maak dié rolprent een van die beter voorbeelde van die genre. Dit is egter te betwyfel of dit alleen genoeg sal wees om kykers wat nie aksie-verslaafdes is na die teater te lok nie. Die verloop van die fliek kan van meet af aan voorspel word. Die rolverdeling word deur uitstekende akteurs gevul, maar nie een bring iets oorspronkliks aan voorspelbare en stereotipe karakters nie. Ons weet presies wat om van elke rolspeler te verwag.

 

Olympus Has Fallen sal menige kyker verveel, maar die fliek se probleem is bloot een van middelmatigheid eerder as swak gehalte. Solank jy nie veeleisend is ten opsigte van aksie-flieks nie bied Olympus Has Fallen vir twee ure deeglike, maar voorspelbare en gewelddadige, vermaak. Die genre het al beter opgelewer, maar die loket het tans nie enige ander aanbiedinge om Olympus Has Fallen se teikengehoor te trakteer nie.

Croods is energieke ligte vermaak

shutterstock_67652158THE CROODS – Met Nicolas Cage, Ryan Reynolds, Emma Stone, Catherine Keener, Clark Duke en Cloris Leachman. Regie deur Kirk DeMicco en Chris Sanders

Die Croods is ’n gesin grotmense wat daagliks te doen het met al die gevare van die steentydperk. Pa Grug (Nicholas Cage) is die gesin se oorbeskermende vaderfiguur. Saam met sy vrou Ugga (Katherine Keener) probeer hy sy kinders Eep (Emma Stone) en Thunk (Clark Duke) help om lank genoeg te oorleef om volwassenheid te bereik. Ugga se ma, Gran (Cloris Leachman), is ook deel van die familie-eenheid en dryf gereeld vir Grug tot raserny. Grug se strategie vir oorlewing is dat sy gesin enigiets wat hoegenaamd nuut of vreemd is vermy en hulself beperk tot die veiligheid van hul grot. Dié houding dryf sy nuuskierige dogter, Eep, tot raserny, aangesien sy alles wil ervaar wat die wêreld het om te bied.

Die gesin se paaie kruis egter gou met dié van Guy (Ryan Reynolds), ’n nuwe spesie van die mensdom wat die Croods effens voor is op die evolusionêre leer. Guy word die gesin se onwillige gids op ’n reis om van die kataklisme wat dreig om die wêreld te vernietig te ontsnap.

The Croods is ’n prettige familie-komedie. Die fliek verloop teen ’n vinnige pas en het geweldige energie. Kleingoed sal selde verveeld wees, maar volwassenes kan nie kwalik geneem word as hulle effens uitgeput raak nie en sal dalk verlang na ’n meer substantiewe storie. Boonop is die draaiboek nie besonder skerp wat komedie betref nie. Sommige oomblikke is snaakser as ander en oor die algemeen sal volwasse kykers die meeste genot put uit die tegniese vernuf wat aan die dag gelê word om die geanimeerde kaskenades lewe te gee.

Op ’n tegniese vlak is The Croods nog ’n tree vorentoe vir animasie-flieks, maar dit skiet te kort in vergelyking met die beste van Pixar en Disney. Kinders sal dit egter gate uit geniet, terwyl hul ouers ook nie verveeld sal wees nie.

Liefde laat dooie harte warm klop

WARM BODIES – Met Nicholas Hoult, Teresa Palmer, Rob Corddry, Dave Franco, John Malkovich en ander. Regie deur Jonathan Levine.

In Warm Bodies vertolk Nicholas Hoult ’n zombie wat homself ‘R’ noem. Hy en sy mede-zombies moet nou oorleef deur jag te maak op die enkele oorlewende lede van die mensdom. Op een só ’n ekspedisie op soek na mensvleis kruis R se paaie met dié van Julie (Teresa Palmer). Julie laat R se zombie-hart gou weer warm klop, maar hy sal hard moet werk om haar te oortuig dat hy meer daarin belang stel om haar hart te verower as om haar brein te verorber.

Warm Bodies is ’n interessante mengsel van die genres van romanse, komedie en gruwelprent. Die fliek se eerste twee derdes is sy sterkste en handhaaf ’n goeie balans tussen dié drie benaderings. Die fliek behou oor die algemeen ’n ligte aanslag, ten spyte van al die grusame gebeure. Tog is die storie propvol emosie en dra die hoopvolle boodskap dat die liefde die mees afgestompte mens weer terug na die land van die lewendes kan bring.

Die akteurs is bekwaam in hul rolle en hanteer die draaiboek se spronge tussen komedie, hartseer en romanse goed. Hoult verdien veral lof vir sy vertolking van R. Die manier waarop hy ’n karakter vertolk wat uiteraard tot feitlik geen self-uitdrukking in staat is nie is aanvanklik skreeusnaaks en die zombie se innerlike monoloog is ook baie vermaaklik. Die proses waardeur R geleidelik weer sy menslikheid terugkry danksy die liefde is ook aangrypend. Danksy Hoult en Palmer se chemie op die grootskerm kan ons werklik glo dat die liefde kan blom vir hierdie ongewone paartjie.

Die potensiaal van die fliek se belowende en ongewone storielyn word dalk nie heeltemal volbring in die laaste bedryf nie en die fliek sluit op ’n voorspelbare en konvensionele noot af. Tog is Warm Bodies aangename, grillerige vermaak met ’n goeie dosis komedie en romanse.

Arnie terug op grootskerm

THE LAST STAND – Met Arnold Schwarzenegger, Forest Whitaker, Johnny Knoxville, Rodrigo Santoro, Luis Guzmán, Jaimie Alexander, Eduardo Noriega, Peter Stormare en ander. Regie deur Kim Ji-woon.

Arnold Schwarzenegger is terug op die grootskerm in sy eerste hoofrol in byna 10 jaar. The Last Stand voel oudmodies, maar het tog ’n mate van vars energie. Die fliek se gematigde sukses is daaraan te wyte dat dit steun op Schwarzenegger se reputasie as legendariese aksie-held en gee hom heelwat geleentheid om weer te skitter met die soort materiaal wat van hom ’n Hollywood-ster gemaak het.

Die fliek is propvol aksie en behoort Arnie se aanhangers tevrede te stel. Die aksietonele skep die indruk dat daar grootliks staatgemaak word op klassieke rolprenttegnieke soos gebruik van waaghalstoertjies en slim redigering en regie. Die skouspel bied ook ’n goeie verskeidenheid, met alles van motorjaagtogte en -toertjies en bloederige vuis- en skietgevegte.

Die rolverdeling van die ondersteunende akteurs is ook goed beplan. Uitstekende karakterakteurs soos Luis Guzmán en Peter Stormare vertolk karakters wat ’n indruk maak sonder om die kollig van Schwarzenegger te steel. Sodoende hoef Schwarzenegger nie alleen die fliek te dra nie en word die storielyn bietjie lyf gegee danksy die teenwoordigheid van afgeronde (dog oppervlakkige) karakters. Al die karakters wat tipies van die genre is is teenwoordig, maar die vinnige pas van die storie en die oorgawe van die aksietonele beteken dat ’n tekort aan diepgang nie werklik pla nie.

Dit kan maklik wees om ’n fliek soos The Last Stand te veel op te hemel, bloot omdat die standaard van aksie-flieks deesdae dikwels so laag is. Al is dit dalk ’n goeie voorbeeld van die genre, is dit steeds ‘n fliek wat hoofsaaklik op ’n verlustiging in bloedvergieting steun om vermaaklik te wees. Aanhangers van die genre wat daarmee vrede het as die storielyn en karakters op die agtergrond geskuif word ter wille van die aksie kan nie vir meer vra nie. As jy egter op soek is na enigiets met substansie, kyk eerder elders.

Bloody, thought-provoking masterstroke

DJANGO UNCHAINED – With Jamie Foxx, Christoph Waltz, Leonardo DiCaprio, Kerry Washington, Samuel L. Jackson, Don Johnson and others. 

Quentin Tarantino tackles the Western genre in Django Unchained, an epic tale of revenge and redemption set in the American Deep South at the height of institutionalised slavery. Jamie Foxx and Christoph Waltz have great chemistry as the leads, portraying the freed slave Django and bounty hunter Dr. King Schultz respectively. Their odd partnership and strangely endearing friendship is one of the movie’s great strengths. Waltz, especially, shines in the role of Schultz, providing a character to rival his celebrated performance in Inglourious Basterds, his previous collaboration with Tarantino.

The film raises interesting questions about the nature and role of violence in the cinema, as is usually the case with Tarantino’s movies. Django Unchained is arguably the director’s bloodiest vision yet and might even make seasoned movie-goers flinch. Both the atrocities perpetrated by slave traders and owners and the vengeful violence meted out to them by the protagonists is presented in lingering, agonising detail. Movie-goers should be aware that this is an exceptionally graphic and possibly disturbing movie.

Ultimately, Django Unchained exists to entertain, and in this respect it is a rousing success. Despite the violence, the story grabs the viewer from the first frame and keeps the attention riveted to the screen for the entire running time of nearly three hours. Every element of the movie, from the performances to the cinematography, is in place and of the expected high standard. The script also deserves praise for being chock-full of well-written, entertaining dialogue. The lengthy scenes of dialogue provides a good balance to the bloody action scenes and are every bit as entertaining, thanks to fleshing out the well-rounded characters and their relationships to one another.

For viewers who can stomach its content as well as its long running time, Django Unchained provides an engaging action spectacle, as thought-provoking as it is violent.

Meesleurend en ontstellend

VERRAAIERS – Met Gys de Villiers, Vilje Maritz, Neil Bennet, Andrew Thompson, Jacques Bessenger, Johan Baird, Stian Bam, Deon Lotz en ander. Regie deur Paul Eilers.

VERRAAIERS handel oor die omstrede onderwerp van “verraaiers” in die Boere-linies ten tyde van die Tweede Vryheidsoorlog. Wanneer Lord Kitchener se beleid van verskroeide aarde op die land losgelaat word, word die Boerekrygers deur ’n somber keuse in die gesig gestaar. Eerder as om voort te baklei in ’n oorlog wat skynbaar verlore is, en sodoende hul gesinne in gevaar te stel, kies enkeles, soos kommandant Van Aswegen (Gys de Villiers), om eerder hul wapens neer te lê en van die oorlog te onttrek. Dié besluit het uiteindelik verwoestende gevolge vir Van Aswegen en almal na aan hom.

 Verraaiers is in vele opsigte ’n rolprent wat standpunt inneem teen die tradisionele romantiese vertolking van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. Dié rolprent stuur kliphard die boodskap dat oorlog gruwelik en waansinnig is en dat, uit ’n menslike oogpunt, niemand as die wenner daaruit kom nie. Wanneer dit kom by die verskriklike prys wat mense in die verloop van oorlog betaal, word geen kant gespaar nie. Die rolprent vra ons uiteindelik om na te dink oor die aard van verraad en hoe verraaier en verraaide maklik plekke kan ruil, afhangende van die oogpunt waaruit gebeure beskou word.

Foutlose vertolking deur die akteurs en knap regie dra Verraaiers se boodskap hard en duidelik oor. Dit is uitstekend verfilm en die tydperk word oortuigend op die skerm verwesenlik. Dit is duidelik dat baie moeite gedoen is om die karakters se voorkoms, mannerisms en kleredrag getrou aan die tydperk te hou.

Aan die negatiewe kant moet uitgewysword dat sentimentaliteit soms dik aangesmeer word. Die indruk word ook soms geskep dat die draaiboek homverlekker in ’n oormaat melodrama, terwyl ’n subtiele aanslag meer oortuigend sou wees. Ondanks dié voorbehoude is Verraaiers, danksy die gehalte van die talent betrokke en ’n dapper verwerping van politieke korrektheid, ’n kragtige en emosioneel uitmergelende rolprent.