Storielyn skort met skouspel

IMMORTALS – Met Henry Cavill, Stephen Dorff, Luke Evans, Isabel Lucas, Kellan Lutz, Freida Pinto en Mickey Rourke. Regie deur Tarsem Singh.

Immortals is ‘n aksie-rolprent wat aanmekaar geslaan is uit verskeie Griekse legendes. Die hoofkarakter is Theseus, bekend as die held van die legende van die Minotourus van Crete en hier vertolk deur Henry Cavill. In Immortals is Theseus ‘n kryger wat ‘n nederige bestaan voer in ‘n vissersdorpie. Die god Zeus (Luke Evans) het egter groot planne vir hom en binnekort moet Theseus aan die hoof van die Griekse leer staan om die bloeddorstige koning Hyperion (Mickey Rourke) teen te staan. Hyperion is van plan om die gode se gedugte vyande, die Titane, uit hul gevangenskap te bevry. Sodoende wil hy wraak neem teen die gode weens die dood van sy familie. Hy sal niks ontsien in hierdie doel nie en slegs Theseus staan ‘n kans om die bloedvergieting te beëindig.

Die regisseur Tarsem Singh skep deurlopend ‘n indrukwekkende skouspel. Die aksietonele en spesiale effekte beeld die onmoontlike op ‘n manier uit wat tog as volkome oortuigend voorkom. Die grusaamheid van baie tonele sal vir sommige kykers een te veel wees, maar die visuele trefkrag van die rolprent kan nie ontken word nie.

Immortals bied egter nie veel meer as bloederige spektakel nie. Die verloop van die storie tussen die aksietonele raak langdradig en verloor momentum, grootliks weens die twee-dimensionele karakters. ‘n Sterker draaiboek en storielyn kon die geweld meer geregverdig laat voel het. ‘n Meer intelligente behandeling van die legendes waarop die rolprent gegrond is kon ook baie tot die produksie gevoeg het en voel soos ‘n vermorsde geleentheid.

Immortals kan slegs aanbeveel word vir kykers wat bereid is om ‘n flouerige storielyn te verduur ter wille van visuele vermaak. Persone met ‘n belangstelling in grafiese ontwerp of spesiale effekte sal waarskynlik ook iets van waarde hier vind, maar meeste kykers sal elders moet kyk vir ‘n goeie aksie-fliek wat intelligente vermaak bied.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s