Verhaal van onwaarskynlike sukses pluk aan hartsnare

SEARCHING FOR SUGAR MAN. Met Malik Bendjelloul en Rodriguez. Regie deur Malik Bendjelloul.

Die enigmatiese musiekant Rodriguez se vreemde lewensverhaal maak Searching for Sugar Man een van die jaar se boeienste rolprente. Dit vertel die storie van twee Suid-Afrikaanse aanhangers se poging om hul musiekheld op te spoor. Die soektog word uitgebeeld as ‘n meesleurende speurverhaal en is uiteindelik die bittersoet storie van ‘n man wat ‘n mate van ware geluk eers laat in sy lewe ontdek het. 

Rodriguez se verhaal begin in die strate van Detroit, Michigan. Searching for Sugar Man open met atmosferiese tonele wat die naglewe in hierdie ongenaakbare, vervalle stad uitbeeld. Hierdie is die omgewing waarin Rodriguez grootgeword het en ‘n bestaan as ‘n musiekant wou voer. Uiteindelik het sy musiekdrome tot ‘n einde gekom weens sy mislukking om inval in die Amerikaanse mark te vind. Hy was egter volkome onbewus van sy gewildheid in Suid-Afrika, waar hy aanklank onder ‘n rebelse jonger geslag gevind het wat ontvlugting gesoek het van die geestelike onderdrukking van Apartheid. 

Die verhaal van die soeke na Rodriguez is fasinerend, maar die rolprent is op sy aangrypendste in die derde bedryf, waar die verrassende gevolge van die soektog na dié onwaarskynlike kultusfiguur uitspeel. Teen die einde behou Rodriguez sy unieke misterie en, alhoewel mens voel asof jy hom effens beter verstaan, bly baie vrae oor sy lewenskeuses en wêreldbeskouing onbeantwoord. 

Rodriguez se eie musiek verskaf die perfekte klankbaan en sal gewis vir hom nuwe aanhangers werf. Searching for Sugar Man is oor die algemeen ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n dokumentêre rolprent en kombineer musiek, beelde en insiggewende onderhoude om ‘n menslike verhaal vol deernis en hartseer uit te beeld. Rodriguez se storie is byna vreemder as fiksie, maar enige mens wat skynbaar onmoontlike drome najaag sal daarby aanklank vind. 

2 thoughts on “Verhaal van onwaarskynlike sukses pluk aan hartsnare

  1. Pingback: coolraed1212

  2. Ek het nie die film gesien nie. Tog glo ek vir Michael Titlestad wanneer hy skryf dat die film basies ‘n “scam” is, en dat die idee dat ‘n beduidende deel van die wit jeug werklik gekant teen Apartheid was, bloot onwaar is.
    http://www.timeslive.co.za/opinion/commentary/2013/03/01/the-big-read-rodriguez-s-cold-fiction

    Dit strook met my eie belewenis van daardie tyd, en ek dink dis verkeerd vir wit mense om vandag nostalgies te raak oor hoe anti-Apartheid hulle kastig was bloot omdat hulle vir Rodriguez geluister het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s