Wonderwerker sal jou meevoer

DIE WONDERWERKER. Met Dawid Minnaar, Elize Cawood, Marius Weyers, Cobus Rossouw, Sandra Kotzé, Anneke Weideman en Kaz McFadden. Regie deur Katinka Heyns.

Lewe op die plaas Rietfontein word in 1907 op sy kop gekeer deur die aankoms van ene Eugène Marais (Dawid Minnaar). Die Van Rooyen-egpaar, Gys en Maria (Marius Weyers en Elize Cawood), bied dié vreemdeling ’n dak oor sy kop terwyl hy herstel van ’n kortstondige aanval van malaria. Sy teenwoordigheid op die plaas is ’n vars asem vir die Van Rooyens se aangenome dogter, Jane (Anneke Weideman). In haar onskuldige oë is hy as’t ware ’n wonderwerker met magiese kragte. Haar deelname aan sy studie van die plaaslike insek- en dierelewe maak ’n onlesbare dors vir kennis en ’n verlange na die onbekende in haar wakker. Die twee se ontluikende romanse laat egter gemoedere op die plaas hoog loop en Marais se verblyf ontketen gebeure wat nie een van die plaasbewoners onaangeraak sal laat nie.

Eugène Marais is een van die Afrikaanse letterkunde se veelbesproke figure. Die Wonderwerker, met ’n draaiboek geskryf deur Chris Barnard, bied ’n menslike portret van die man. Barnard se weergawe van Marais onderspeel die donkerder kant van sy menswees en beklemtoon die kinderlike wonder wat hy in die natuur ervaar het en wys dat Marais waarskynlik ’n mate van ware geluk op Rietfontein ontdek het, waar hy tydelik kon wegkom van die skaduwees wat hom tot dwelmverslawing gelei het.

Op ’n tegniese vlak is die gehalte van die rolprent uitstekend. Dit is pragtig verfilm en die natuurtonele alleen is ’n plesier vir die oog. Deur die lens van haar kamera beeld Katinka Heyns die plaas en sy omgewing as ’n ryklik atmosferiese en oortuigende ruimte uit. Die akteurs leef hulle ook volkome uit in hul rolle en dit is maklik om meegevoer te word en werklik saam met Marais en die Van Rooyens in daardie vreemde, onstuimige en wonderlike tydperk op Rietfontein saam te leef.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s