Legacy hoofsaaklik vir aanhangers

THE BOURNE LEGACY. Met Jeremy Renner, Rachel Weisz, Edward Norton, Joan Allen en Albert Finney. Regie deur Tony Gilroy.

The Bourne Legacy bou voort op die verhaal wat begin is in die gewilde Bourne-trilogie. In die hoofrol is Jeremy Renner as Aaron Cross, ‘n Amerikaanse geheime agent met soortgelyke bomenslike vermoëns en opleiding as die berugte Jason Bourne. In The Bourne Legacy is Bourne egter ‘n randfiguur wat die gebeure van die verhaal slegs indirek beïnvloed. Bourne, oorspronklik vertolk deur Matt Damon en die hoofkarakter van die vorige drie rolprente, se teenwoordigheid word steeds gevoel en die gevolge van sy optrede ontketen die gebeure wat daartoe lei dat Cross moet veg om oorlewing.

The Bourne Legacy vind ‘n vernuftige manier om nog ‘n aflewering van hierdie gewilde reeks aan te bied. Matt Damon se afwesigheid skeel nie en Renner doen goeie werk as aksie-held in die hoofrol, met Rachel Weisz en Edward Norton wat flink ondersteuning bied. Die verwysings na gebeure in die rolprent se voorgangers kan verwarrend wees vir diegene wat nie met die reeks vertroud is nie. Voorafkennis is egter nie noodsaaklik om die draad van die storie te volg nie en Legacy se verhaal ontvou teen ‘n vermaaklike pas en tref ‘n goeie balans tussen aksietonele en karakter-gedrewe oomblikke.

Die fliek se fut raak egter op teen die einde. Terwyl die rolprent nooit besondere hoogtes van oorspronklikheid bereik nie, slaag dit tog om ‘n paar verrassings op te dis. Die aksie-tonele is vermaaklik en het ‘n mate van emosionele trefkrag, een opsig waarin die rolprent sy voorgangers oortref. Die verhaal sluit ongelukkig af met ‘n langdradige jaagtog. Hierdie tipe toneel was dikwels die swakste deel van die Bourne-reeks en dit is ‘n teleurstelling dat The Bourne Legacy weer hierdie afgesaagde formule navolg, veral nadat die meerderheid van die rolprent spanningsvol en boeiend was.

Vir Bourne-aanhangers kan Legacy aanbeveel word, al is dit net om te sien hoe op die reeks voortgebou word. Wag egter maar vir die DVD as dié reeks jou nooit werklik aangestaan het nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s