Wolwedans ‘n gemengde sukses op silwerdoek

WOLWEDANS IN DIE SKEMER. Met Rolanda Marais, David Louw, Lelia Etsebeth, Desiré Gardner, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger, Ilse Roos, Andre Roothman, Riana Wilkens en Karen Wessels. Regie deur Jozua Malherbe.

Ons begin Wolwedans in die Skemer deur by Sonja Daneel (Rolanda Marais) aan te sluit waar sy op pad is na die Hotel Njala om te werk as ontvangsdame. Sy reis die skemerdonker binne en die kyker maak graag hierdie reis meë. Binnekort word sy egter wakker in die hotel met volkome geheueverlies weens die ongeluk wat haar reis in die wiele gery het. Saam met Daneel is ons dan ook vreemdelinge in die hotel en moet ons saam met haar probeer sin maak van die vreemde gebeure en vreemder inwoners van die hotel. Die openingstoneel dien sy doel om ‘n treffende inleiding te wees en om die kyker gewillig te maak om die verhaal tot die einde te volg. 

Die rolprent slaag egter nie daarin om al sy karakters en storielyne genoeg te ontwikkel nie. Die ondersoek na die raaiselagtige moorde in en om die hotel sit ongemaklik langs die ingewikkelde liefdesverhaal. Boonop word daar geskimp na ‘n dieper verbintenis tussen Daneel en die geskiedenis van die hotel, wat ‘n raaisel oplewer wat dramaties, maar net te skielik, teen die klimaks ontrafel. Dit is ‘n besonderse uitdaging om so ‘n ingewikkelde storielyn na regte binne die beperkings van ‘n rolprent uit te beeld en dit is maklik om te sien hoe hierdie verhaal meer geslaagd kon wees in sy oorspronklike gedaante as radiodrama. Met ‘n rustiger, meer tydsame vertelling kon die verhaal op ‘n meer bevredigende wyse afgespeel het. 

Ten spyte van dié voorbehoude bly Wolwedans ‘n vermaaklike kykervaring. Die rolprent hou die aandag tot die einde, al is dit net om te sien hoe al die vrae wat dit opdis uiteindelik beantwoord word. Wolwedans in die Skemer is nog ‘n suksesverhaal vir die herlewing wat Afrikaanse rolprente tans beleef, al is dit hierdie keer ‘n gemengde een.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s