Akteurs gee dié veldtog ‘n hupstoot

THE CAMPAIGN. Met Will Ferrell, Zach Galifianakis, Jason Sudeikis, Katherine LaNasa, Dylan McDermott, John Lithgow, Dan Aykroyd en Brian Cox. Regie deur Jay Roach.

In die aanloop tot die verkiesing om die volgende president van Amerika aan te wys sou ‘n skerp satiriese blik op die hele gedoente welkom gewees het. Dié behoefte word egter nie deur The Campaign bevredig nie. Eerder as om ‘n spieëlbeeld te verskaf wat die belaglikhede van die Amerikaanse politiek in skerper fokus plaas, mik die rolprent se visier aansienlik laer. Die komedie berus eerder daarop om die gehoor te laat lag met skurwe grappe en onder-die-belt humor.

Dit dryf wel die spot met die onderduimse taktieke wat dikwels in verkiesingsveldtogte ingespan word. Soos in die werklikheid speel die kandidate in The Campaign die man eerder as die bal, en moddergooiery is aan die orde van die dag. Dit gaan uiteindelik nie oor wie goed lyk nie, maar die wenner is eerder die een wat sy opponent nog slegter as homself kan laat voorkom. The Campaign jaag egter toenemende hoogtes van absurditeit na todat die gebeure geen meer verband met die werklikheid het nie. Dikwels skreeusnaaks, ja, maar nie geslaagd as satire nie.

Die twee hoofakteurs is uitstekend. Cam Brady (Will Ferrell) en Marty Huggins (Zach Galifianakis) is twee politici in die suide van Amerika wat meeding om ‘n distrik in Noord-Carolina te verower. Met minder begaafde sterre kon die komedie maklik ontspoor het, maar te danke aan hul talent vermaak die rolprent van begin tot einde, al is daar dikwels oomblikke waar ‘n grappie platval of waar swak smaak die humor ongemaklik eerder as snaaks maak.

The Campaign behoort heelwat vermaak te verskaf aan fliekgangers op soek na ‘n lekker lag, solank hulle ‘n hoë weerstand het teen platvoerse komedie. Aanhangers van Will Ferrell behoort die fliek veral te geniet, aangesien dit waarskynlik sy sterkste komedie in jare is. Moet net verkieslik nie die teater binnestap met ‘n verwagting om met skerp politieke kwinkslae vermaak te word nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s