Silver Linings ’n seldsame plesier

SILVER LININGS PLAYBOOK. Met Bradley Cooper, Jennifer Lawrence, Robert de Niro, Jacki Weaver, Chris Tucker en Anupham Kher. Regie deur David O. Russell

Pat (Bradley Cooper) probeer weer deel word van die samelewing ná ’n geweldadige uitbarsting wat hom ’n tydperk binne die vier mure van ’n inrigting vir geestesversteurdes laat deurbring. Sy ouers (Robert de Niro en Jacki Weaver) laat hom toe om weer by hulle in te trek terwyl hy die skerwe van sy lewe opraap. Hy maak binnekort vriende met Tiffany (Jennifer Lawrence), wat self sukkel om kop bo water te hou weens ’n onlangse verlies. Sal hul vriendskap dié twee gebrokenes aanhelp op die pad na genesing of hulle net nog verder laat ontspoor?

Dis ’n seldsame plesier om ’n fliek te ervaar wat ’n mens met ’n ligter gemoed uit die teater laat stap, sonder om die voorspelbare truuks van die ‘voel-goed’-genre op die gehoor af te smeer. Silver Linings Playbook is een van dié fliekervarings. Dit word reggekry deur ’n geloofwaardige storielyn met menslike karakters wat gebuk gaan onder ernstige probleme, maar nietemin opreg probeer om bo uit te kom. Die draaiboek val ook nie in die maklike lokval om hul geestesversteurdheid te romantiseer of om dit te ontgin vir komedie nie. Dit skroom nie weg van die realiteite van geestesversteurings nie, maar die boodskap is dat ons deur wilskrag meer kan oorkom as wat ons dalk dink.

Daar is ook nie een swak skakel in die rolverdeling nie. Die vonke spat behoorlik tussen Pat en Tiffany en hul vriendskap verskaf die kloppende hart van die verhaal. De Niro se rol as Pat se pa is ’n openbaring, waarin dié veteraan ’n hartroerende uitbeelding bied van ’n vader wat sukkel om na sy seun uit te reik, al wil hy hoe graag hom in sy donkerste uur bystaan.

Gaan geniet gerus dié uitstekende romantiese komedie, gemaak deur volwassenes vir volwassenes.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s