Vars ná twee dekades

WHEN HARRY MET SALLY … Met Billy Crystal, Meg Ryan, Carrie Fisher en Bruno Kirby. Regie deur Rob Reiner

When Harry met Sally … is ‘n romantiese komedie wat ná meer as twee dekades steeds vars en relevant voel. Die draaiboek deur Nora Ephron, met bydraes deur Billy Crystal, is vlymskerp en die karakters se ervarings en uiteenlopende perspektiewe op die liefde bly vermaaklik.

Natuurlik verskaf die verhouding tussen Harry Burns (Billy Crystal) en Sally Albright (Meg Ryan) die meeste van die vermaak. Deur hul vriendskap word die netelige kwessie van blywende liefde verken. Harry en Sally is jare lange beste vriende, ten spyte van Harry se filosofie van platoniese vriendskap tussen mans en vroue, naamlik dat sulke vriendskappe nooit goed uitdraai nie omdat seksuele begeerte altyd ‘n vlieg in die salf word. Die jare gaan egter verby en verhoudings kom en gaan vir dié twee, maar hul vriendskap bly onwrikbaar staan. Die spanning van die storielyn lê natuurlik daarin of daar ‘n kans is dat romanse ooit tussen hulle sal vlamvat en indien wel, wat dit vir hul vriendskap sal beteken.

Die fliek word tereg onthou as ‘n hoogtepunt in die loopbane van Crystal en Ryan en hul karakters bring elk iets uniek tot die fliek. Crystal se komediese spel is uitstekend en sy vertolking van Harry laat Ephron se skerp sin vir dialoog volkome tot sy reg kom. Alhoewel die beste dialoog vir Crystal beskore is, dra Ryan ‘n oormaat uitbundigheid en lewensvreugde tot die fliek by.

Die verhaal speel grootliks af oor die verloop van ‘n jaar in New York, wat tot die prent se kykgenot bydra. Dié stad se unieke aanloklikheid word ten volle benut en word perfek gekomplimenteer deur die uitstekende jazz-klankbaan.

Al dié bestanddele dra daartoe by dat When Harry met Sally … een van die aangenaamste bydraes tot die genre is. Ongeag wat die stand van sake in die kyker se liefdeslewe is, is dié die fliek wat enigeen behoort te oortuig dat elke pot sy deksel het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s