Liefde laat dooie harte warm klop

WARM BODIES – Met Nicholas Hoult, Teresa Palmer, Rob Corddry, Dave Franco, John Malkovich en ander. Regie deur Jonathan Levine.

In Warm Bodies vertolk Nicholas Hoult ’n zombie wat homself ‘R’ noem. Hy en sy mede-zombies moet nou oorleef deur jag te maak op die enkele oorlewende lede van die mensdom. Op een só ’n ekspedisie op soek na mensvleis kruis R se paaie met dié van Julie (Teresa Palmer). Julie laat R se zombie-hart gou weer warm klop, maar hy sal hard moet werk om haar te oortuig dat hy meer daarin belang stel om haar hart te verower as om haar brein te verorber.

Warm Bodies is ’n interessante mengsel van die genres van romanse, komedie en gruwelprent. Die fliek se eerste twee derdes is sy sterkste en handhaaf ’n goeie balans tussen dié drie benaderings. Die fliek behou oor die algemeen ’n ligte aanslag, ten spyte van al die grusame gebeure. Tog is die storie propvol emosie en dra die hoopvolle boodskap dat die liefde die mees afgestompte mens weer terug na die land van die lewendes kan bring.

Die akteurs is bekwaam in hul rolle en hanteer die draaiboek se spronge tussen komedie, hartseer en romanse goed. Hoult verdien veral lof vir sy vertolking van R. Die manier waarop hy ’n karakter vertolk wat uiteraard tot feitlik geen self-uitdrukking in staat is nie is aanvanklik skreeusnaaks en die zombie se innerlike monoloog is ook baie vermaaklik. Die proses waardeur R geleidelik weer sy menslikheid terugkry danksy die liefde is ook aangrypend. Danksy Hoult en Palmer se chemie op die grootskerm kan ons werklik glo dat die liefde kan blom vir hierdie ongewone paartjie.

Die potensiaal van die fliek se belowende en ongewone storielyn word dalk nie heeltemal volbring in die laaste bedryf nie en die fliek sluit op ’n voorspelbare en konvensionele noot af. Tog is Warm Bodies aangename, grillerige vermaak met ’n goeie dosis komedie en romanse.